Quantcast
Channel: Homeschool HUB South Africa » Blog
Viewing all articles
Browse latest Browse all 5

Weskaapse onderwysdepartement intimideer tuisskoolouers

0
0

In die Tygerburger van 8 Augustus het die Wes-Kaapse Department van Onderwys ’n kennisgewing geplaas met die titel “Ken die feite oor tuisonderrig”. In die kennisgewing word onder andere beweer dat ouers vir hulle kinders moet goedkeuring kry alvorens hulle met tuisonderwys begin, dat die kurrikulum wat gevolg moet word in lyn met die Nasionale Kurrikulumverklaring moet wees en dat leerders vanaf Gr.9 by ’n skool ingeskryf moet wees.

Baie ouers wat tuisonderwys gee is geskok deur hierdie kennisgewing. Die genoemde vereistes wat in die kennisgewing beskryf word is in stryd met die wet. In September 2010 het die Wes-Kaapse onderwys departement ’n soortgelyke kennisgewing geplaas, en toe is die onderwysdepartement daarop gewys dat hierdie vereistes onwettig is. Die Pestalozzi Trust het ‘n brief geskryf en die Pestalozzi Trust saam met die Vereniging vir Tuisonderwys en die Cape Home Edcators het met amptenare van die onderwysdepartement vergader en die onwettige aard van hierdie vereistes onder hulle aandag gebring en dit bespreek. Terwyl die onderwysdepartement weet dat hulle vereistes onwettig is, probeer hulle nogtans weer om ouers met hierdie kennisgewing te intimideer.

Die hoogste wet in Suid-Afrika is die grondwet. Volgens die grondwet dra die kind se beste belange die hoogste gesag in sake wat kinders betref. ’n Vereiste dat ouers moet goedkeuring kry voor ’n sekere datum alvorens hulle kan begin met tuisonderwys het niks te doen met die beste belang van die kind nie, maar dit gee aan amptenare by die onderwysdepartement beheer oor ander mense se kinders. Hierdie soort vereistes is daarom in stryd met die grondwet. As ouers byvoorbeeld in Januarie sou besluit dat hulle wil tuisonderwys gee, omdat hulle kind by die skool geboelie word, sou hierdie vereiste impliseer dat die ouers die kind moet laat boelie vir die res van die jaar, sodat hulle voor 30 September kan aansoek doen om tuisonderwys te gee in die volgende jaar. Dan kom hierdie vereistes eenvoudig neer op geïnstitusionaliseerde kindermishandeling.

Die grondwet bepaal in art. 39(1)(b) dat die howe die handves van regte moet interpreteer in terme van internasionale reg.  Een so ’n stuk internasionale reg is art. 26(3) van die Universele Verklaring van Menseregte wat bepaal dat ouers die reg het om te kies watter tipe opvoeding hulle kinders ontvang. Indien ouers eers moet toestemming vra by die onderwysdepartement alvorens hulle met tuisonderwys begin, word hierdie ouerlike reg ingeperk, wat weereens ongrondwetlik is.

Regter Cynthia Pretorius het op 25 Maart 2011 in die hooggeregshof in Pretoria uitgespreek dat die nasionale kurrikulum nie bindend is vir onafhanklike skole en ouers wat tuisonderwys gee nie. Die Wes-Kaapse onderwysdepartement handel daarom onwettig indien hulle van ouers vereis dat hulle die nasionale kurrikulum moet volg.

Verder beweer die kennisgewing dat tuisleerders nie Gr. 9 tot Gr. 12 kan doen nie. Indien tuisleerders nie ’n matriek kan verwerf nie, dan kan tuisleerders nie toegelaat word tot verdere onderwys nie. Die grondwet bepaal egter dat alle burgers die reg het tot verdere onderwys. Dit is daarom ongrondwetlik van die Wes-Kaapse onderwysdepartement om te diskrimineer teen tuisleerders deur vereistes daar te stel waarvolgens grondwetlike reg op verdere onderwys ingeperk word.

Dit behoort duidelik te wees uit bg. argumente dat die Wes-Kaapse departement van onderwys allerhande vereistes stel aan ouers wat tuisonderwys gee, wat nie deur die wet voorgeskryf word nie. In so ’n situasie is dit wettig om nie te registreer by die Wes-Kaapse onderwysdepartement nie. Dit is omdat ouers wat hulle aan die wet wil hou, deur nie aan die provinsiale owerheid se onwettige vereistes te voldoen nie, dat 90% van ouers hulle kinders nie vir tuisonderwys registreer nie. Ouers wat tuisonderwys oorweeg word aanbeveel om regsadvies te kry alvorens hulle hul verbind aan allerhande onwettige vereistes as hulle registreer by die onderwysdepartement. Omdat sulke regsadvies duur is, is daar ’n regsfonds vir tuisonderwys gestig, wat regsondersteuning vir tuisskoolouers bekostigbaar maak. Die besonderhede van die regsfonds kan gevind word by www.pestalozzi.org

Die Vereniging vir Tuisonderwys het op hierdie kennisgewing gereageer deur ‘n brief te skryf aan die Tygerburger, waarin die redes uiteengesit word waarom die vereistes van die onderwysdepartment in stryd is met die wet. Kliek hier vir ‘n skakel na die brief.

read more from Bouwe at the Association for Home Education


Viewing all articles
Browse latest Browse all 5

Latest Images

Trending Articles





Latest Images